Geskiedenis van De Rust

Dié luukse aftree-oord is geleë in die hart van Durbanville-dorpsgebied op vrugbare, boomryke grond met ’n landelike, rustige atmosfeer. Die erwe is omsoom deur ’n panoramiese uitsig op die Tygerbergheuwels en netjiese wingerde op historiese wynplase. Die aftree-oord  is ook sentraal geleë naby die plaaslike winkelsentrums. Die netwerk van deurpaaie in alle rigtings verbind Durbanville met alle omliggende dorpe en stede.

Die De Rust Aftree-oord is in die historiese kern van Durbanville gelee. Die kompleks is in 1994 in gebruik geneem en verskaf behuising en sorgdienste aan 180 afgetredenes. Die ontwikkeling is deur Utilitas Bellville gedoen. Die ontwikkelaar het besondere moeite gedoen om die Victoriaanse woning wat dateer uit ongeveer 1890 en voorheen bekend as Huis Luckhoff, te restoureer en te bewaar. Die De Rust Aftree-oord, soos hy vandag bekend staan, is gebou op ‘n deel van die ou uitspanplek vir ossewaens bekend as Pampoenkraal. Pampoenkraal is al sedert 1662 bekend toe die eerste vrypagplase aan Vryburgers toegeken is. Die naam “Pampoenkraal” is in 1886 verander na “Durbanville”. Die Te Huis De Rust het in 1892 onder leiding van ds. A.D. Luchoff tot stand gekom. In die beginjare was De Rust die uitspanplek van boere van die omgewing wat nagmaaldienste in die historiese NG Kerk bygewoon het. De Rust het ook gedien as vakansieplek vir afgetrede predikante en sendelinge. Langer as 50 jaar het De Rust as n veilige hawe gedien vir hulpbehoewende en siek persone. Ds. Luckhoff het in 1904 vertrek. In 1925 is n deel van die terrrein verkoop waarop later die Instituut vir Meisies opgerig is. Huis Aristea is op n ander deel van die oorspronklike grondgebied gebou. Vandag, meer as 100 jaar na die stigting van Te Huis De Rust leef die ideaal van ds. Luckhoff voort in die moderne Aftree-oord De Rust waar eredienste plaasvind, siekes versorg word en afgetredenes rustig woon.